9. Simon Petrus vra Jesus toe: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en kop.”
10. Jesus sê vir hom: “Iemand wat klaar gebad het, is heeltemal skoon, behalwe om nog sy voete te was. En julle is mos reeds skoon – nee, tog nie almal nie.”
11. Jesus het goed geweet wie Hom sou uitlewer; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”
12. Nadat Jesus hulle voete klaar gewas het, het Hy sy bo-klere aangetrek en weer aangelê by die ete. Hy sê toe vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?
13. Julle noem My Leermeester en Here, en tereg só, want Ek is dit.
14. As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was.
15. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.
16. Hoe waar is dit tog nie: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie en ’n gestuurde ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.
17. As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle geseënd wees as julle dit ook doen.”
18. “Ek praat nie van julle almal nie. Ek weet goed wie Ek uitgesoek het. Die Skrif moet egter in vervulling gaan: ‘Die een wat van my brood geniet, het teen My gedraai.’
19. Ek maak julle nou al daarop bedag, nog voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit ook al gebeur dat Ek is wat Ek is.