1. Die Here sê: “Wanneer dié tyd aanbreek, sal Ek Juda en Jerusalem weer voorspoedig maak.
2. Ek sal al die nasies van die wêreld in die Josafatvallei bymekaarmaak. Daar sal Ek hulle oordeel omdat hulle my volk kwaad aangedoen het. Hulle het Israel wat aan My behoort onder die nasies verstrooi en my land verdeel.
3. Hulle werp die lot om te besluit wie van my volk hulle slawe gaan wees. Hulle ruil jong seuns vir prostitute en jong dogters vir genoeg wyn om dronk te word.
4. “Wat het julle teen My, Tirus, Sidon en streke van die Filistyne? Probeer julle wraak neem op My? As dit die geval is, wees versigtig! Ek sal julle baie skielik tref en julle terugbetaal vir alles wat julle gedoen het.
5. “Julle het my goud en my silwer gesteel. Julle het my kosbare skatte na julle heidense tempels toe weggedra.