Job 2:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Eendag was die hemelwesens* weer voor die Here. Die aanklaer was ook tussen hulle.

2. “Waar was jy?” vra die Here vir die aanklaer.“Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat gebeur,” sê die aanklaer vir die Here.

3. “Het jy vir Job raakgesien? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy dien My en doen nie die verkeerde nie. En hy hou aan om My te dien, al het jy My ook oorreed om sonder enige oorsaak aan hom skade te doen,” sê die Here vir die aanklaer.

4. Die aanklaer antwoord die Here: “Hy dien U maar net omdat U dit goed laat gaan met hom.* ’n Mens sal immers enigiets gee om sy lewe te red!

5. Maar tas hom aan en vat sy gesondheid weg, dan sal U sien hoe vloek hy U in u gesig!”

6. “Goed, doen met hom wat jy wil. Spaar net sy lewe,” sê die Here vir die aanklaer.

7. Die aanklaer is toe weg van die Here af. Hy het Job met pynlike swere getref. Sy hele lyf was oortrek van die swere.

8. Job het op die ashoop gaan sit en met ’n gebreekte potskerf sy swere gekrap.

Job 2