Jesaja 36:4-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Die Assiriese koning se verteenwoordiger het hierdie boodskap vir koning Hiskia gestuur: “So sê die groot koning, Assirië se koning: Waarop vertrou julle dat julle so vol selfvertroue is?

5. Dink jy blote woorde kan militêre vaardigheid en mag vervang? Wie is jou bondgenote wat jou kan help, dat jy nou in opstand teen my gekom het?

6. Sal Egipte jou help? As jy op Egipte leun, vind jy uit dis soos om op ’n stok te leun wat onder jou gewig breek en jou hand deurboor. Die farao van Egipte is geheel en al onbetroubaar.

7. “Miskien sê jy: ‘Ons vertrou op die Here ons God!’ Maar is Hy nie die Een wat deur koning Hiskia beledig is nie? Het Hiskia dan nie sy heiligdomme en altare omgegooi en almal in Juda verplig om net by die altaar hier in Jerusalem te aanbid nie?

8. “Ek sê jou wat: My meester, die koning van Assirië, gaan met jou ’n weddenskap aan. As jy 2 000 ruiters in jou hele weermag kan kry, gee hy jou 2 000 perde om op te ry!

9. Hoe dink jy kan jy met jou klein weermag selfs die swakste afdeling van my meester se leër uitdaag? En tog vertrou jy op Egipte se hulp vir strydwaens en perde!

10. Wat meer is, dink jy ek het jou land binnegeval en beset sonder dat die Here my beveel het? Die Here self het vir my gesê: ‘Gaan en vernietig daardie land.’”

Jesaja 36