24. Die koning en sy amptenare het geluister na alles wat geskryf was, maar dit het hulle nie banggemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur nie.
25. Selfs nadat Elnatan, Delaja en Gemarja die koning gesmeek het om nie die boek te verbrand nie, wou hy nie luister nie.
26. Hierna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja seun van Asriël en ook vir Selemja seun van Abdeël opdrag gegee om Baruk en Jeremia te arresteer. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.
27. Die koning het die boekrol wat Jeremia dikteer en Baruk geskryf het, verbrand. Nadat hy dit gedoen het, het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
28. “Kry vir jou ’n ander boekrol en skryf weer alles neer wat in die boekrol gestaan het wat Jojakim verbrand het.
29. Sê dan vir koning Jojakim van Juda: Die Here sê: Jy het die boek verbrand, want jy sê: Hoekom het jy daarop geskryf dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes en dat geen mens of dier gaan oorleef nie?
30. “Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: Hy sal nie iemand uit sy familie hê om die koningskap van Dawid voort te sit nie. Hulle sal sy lyk buite weggooi en hom nie begrawe nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag.