6. Wanneer sy agter haar minnaars aan loop, sal sy hulle nie kan inhaal nie. Sy sal na hulle soek, maar hulle nie kry nie. Dan sal sy dink: ‘Ek moet maar na my man toe teruggaan, want by hom het dit beter met my gegaan as nou.’
7. Sy besef nie dat dit Ek is wat haar alles gegee het wat sy het nie: koring, wyn en olie – selfs die goud en silwer wat sy vir die afgod Baäl geoffer het!
8. “Daarom sal Ek my koring en my wyn wat Ek elke oestyd vir haar gegee het, terugneem. Ek sal my wol en my vlas wegneem, dit wat Ek vir haar gegee het om daarmee haar naaktheid toe te maak.
9. Ek sal haar in die openbaar kaal uittrek terwyl haar minnaars toekyk. Nie een van hulle sal haar uit my hand kan red nie.
10. Ek sal ’n einde maak aan haar jaarlikse feeste, haar Nuwemaanfeeste en haar Sabbatsfeeste – trouens al haar vasgestelde feeste.
11. Ek sal haar wingerde en vyebome verwoes, dinge waarvan sy sê: ‘Dis betaling wat my minnaars vir my gegee het.’ Ek sal dit tot ’n ruigte maak sodat net wilde diere daarvan sal vreet.
12. Ek sal haar straf vir al die kere dat sy wierook vir die beelde van die Baäls gebrand het, haar behang het met oorringe en juwele, en uitgegaan het om haar minnaars te soek. Maar aan My het sy nie gedink nie,” sê die Here.
13. “Daarom sal Ek haar naderlok en weer terugwen. Ek sal haar na die woestyn toe lei en daar teer dinge vir haar sê.
14. Ek sal daar haar wingerde aan haar teruggee. Dan sal die Akorvlakte verander in ’n deur van hoop. Daar sal sy weer Myne word soos lank gelede toe sy nog jonk was en Ek haar uit slawerny in Egipte bevry het.
15. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy My noem ‘my man’ en nie meer ‘my meester’ nie.