Hebreërs 6:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Kom ons hou op om oor en oor te konsentreer op die basiese aspekte van Christenskap. Kom ons gaan eerder verder en word geestelik volwasse. Dit behoort tog seker nie nodig te wees om nog ’n keer die fondament te lê deur te praat oor die noodsaaklikheid dat ons ons van ’n ongelowige leefwyse moet bekeer en in God moet glo nie.

2. Of oor die verskillende vorme van doop en die handoplegging, of die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

3. Daarom sal ons, as God dit toelaat, binnekort ons betoog voortsit.

7. As die grond die reën indrink wat gereeld daarop val en ’n goeie oes vir die landbouers voortbring, rus God se seën daarop.

8. Maar as dit net dorings en dissels oplewer, is dit nutteloos. God sal weldra sy vloek daaroor uitspreek en uiteindelik is dit bestem vir die vuur.

9. Maar, geliefdes, al praat ons so ernstig hieroor, is ons tog wat julle betref daarvan oortuig dat dit nie op julle van toepassing is nie. Ons is positief oor julle en glo dat julle verlos sal word.

10. God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.

11. Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word.

12. Dan sal julle nie traag raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.

13. Neem byvoorbeeld God se belofte aan Abraham. Omdat daar niemand groter as Hy self was by wie God ’n eed kon aflê nie, het Hy ’n eed by Homself afgelê deur te sê:

14. “Ek sal jou vir seker ryklik seën en Ek sal aan jou ’n baie groot nageslag gee.”

Hebreërs 6