31. God het Hom verhoog tot Leier en Verlosser in die regeerposisie reg langs Hom. Hy het dit gedoen om Israel tot inkeer te bring sodat hulle vergifnis van sonde kan ontvang.
32. Óns is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat God gegee het aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”
33. Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend en het hulle begin planne maak om die apostels dood te maak.
34. Maar een van die Raadslede het opgestaan. Hy was ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n geëerde wetskenner van Moses en baie gerespekteer deur al die mense. Hy het opgestaan en gevra dat die apostels ’n rukkie moet uitgaan.
35. Hy het sy kollegas toe soos volg toegespreek: “Geagte Israeliete, wees versigtig wat julle met hierdie mans gaan doen!
36. ’n Tyd gelede het ene Teudas na vore getree en daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders is. Omtrent 400 man het by hom aangesluit. Hy is egter tereggestel, en al sy volgelinge is verstrooi. Dié hele beweging het op niks uitgeloop nie.
37. Na hom, in die tyd van die sensus, was daar Judas die Galileër. Hy het ’n opstand georganiseer en ’n klomp mense is agter hom aan. Ook hý is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaargejaag.
38. “Wat die huidige geval betref, is my aanbeveling daarom aan julle: Laat staan hierdie mense en los hulle uit. As hulle beplanning en aksies mensewerk is, sal daar niks van kom nie.
39. As dit egter van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Netnou word daar bevind dat julle selfs teen God geveg het!”Die Raad het sy advies aanvaar.
40. Hulle het die apostels ingeroep en hulle laat slaan. Toe het hulle hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat, en hulle laat gaan.
41. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat God hulle werd geag het om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.
42. En elke dag het hulle aangehou om mense in die tempel en van huis tot huis te onderrig en die Goeie Nuus te preek dat Jesus die Messias is.