Haggai 2:8-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die silwer en die goud behoort aan My, sê die Here, die Almagtige.

9. Die toekomstige roem van hierdie tempel sal baie groter wees as wat dit in die verlede was, sê die Here, die Almagtige. Ek sal in hierdie plek vrede bewerkstellig. Ek, die Here, die Almagtige, bevestig dit!”

10. Op 18 Desember van die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here die volgende boodskap deur die profeet Haggai gestuur:

11. “Die Here, die Almagtige, sê: Vra vir die priesters die volgende vraag oor die gebooie:

12. Sê nou een van julle dra ’n heilige offer in ’n sak van sy klere. En sê nou hy raak aan ’n stuk brood, gekookte kos, wyn, olie of enige ander vorm van kos, sal dit dan gewy wees?” Die priesters het geantwoord: “Nee.”

13. Haggai vra toe: “Sê nou iemand het onrein geword omdat so ’n persoon aan ’n lyk geraak het. As hy dan raak aan al die dinge wat reeds genoem is, is die goed dan ook onrein?”Die priesters het geantwoord: “Ja.”

14. Toe sê Haggai: “Dit geld ook vir hierdie mense en hierdie volk, sê die Here. Net mooi alles wat hulle doen en wat hulle offer, is onrein.

15. Hou dit voortaan in gedagte. Dink ’n bietjie hoe julle omstandighede was voordat julle die fondament van die Here se tempel begin lê het.

16. Toe julle gehoop het vir ten minste twintig mate koring, het julle net tien geoes. En toe julle verwag het om darem 50 vate wyn uit die pers te kry, het dit net twintig opgelewer.

17. Ek het brandkoring, heuningdou en hael gestuur om julle handewerk te vernietig. Tog, ten spyte daarvan, het julle geweier om na My toe terug te kom, sê die Here.

18. “Let baie mooi op wat van vandag af, 18 Desember, die dag waarop die fondamente van die tempel gelê is, sal gebeur:

19. Ek maak nou aan julle ’n belofte terwyl die saad nog in die skuur is en die wingerd, die vyeboom, die granaatboom en die olyfboom nog nie hulle vrug opgelewer het nie. Van vandag af sal Ek julle voorspoedig maak.”

20. Die Here het op 18 Desember ’n tweede boodskap vir Haggai gegee:

21. “Sê vir Serubbabel, die goewerneur van Juda, dat Ek op die punt staan om die hemel en die aarde te skud.

22. Ek gaan konings se ryke omverwerp. Ek gaan die mag van koninkryke vernietig. Ek gaan strydwaens en hulle bemanning omdop. Die perde sal neerslaan en die ruiters sal mekaar doodmaak.

23. “Die dag wanneer dit gebeur, sê die Here, die Almagtige, sal Ek jou vereer, Serubbabel, seun van Sealtiël, my dienskneg. Ek sal jou beskou soos ’n seëlring aan my vinger, sê die Here. Ek sal dit doen omdat Ek jou gekies het. Ek, die Here, die Almagtige, sê dit!”

Haggai 2