Genesis 7:5-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Noag het die opdrag van die Here uitgevoer.

6. Hy was 600 jaar oud toe die vloed begin het.

7. Hy, sy vrou, sy seuns en hulle vroue het aan boord gegaan om die vloed te oorleef.

8. Saam met hulle was daar diere van alle soorte: dié wat geëet en vir offers gebruik kon word, dié wat nie daarvoor goedgekeur was nie, asook van al die voëls en ander klein diertjies wat op die aarde kruip.

9. Hulle het in pare, mannetjies en wyfies, na Noag by die ark gekom net soos God vir Noag beveel het.

10. ’n Week later het die groot vloed losgebreek en die aarde oordek.

11. Op die sewentiende dag van die tweede maand, tydens Noag se seshonderdste jaar, het die onderaardse waters oopgebars. Die reën het ook in strome begin neerstort

12. vir 40 dae en nagte aanmekaar.

13. Op daardie selfde dag het Noag en sy vrou, saam met sy seuns, Sem, Gam en Jafet, asook hulle vroue, aan boord gegaan.

14. Saam met hulle op die ark was daar mak diere, wilde diere, klein kruipende diere, voëls en vlieënde insekte van alle soorte.

15. Van alles wat leef, het twee-twee saam met Noag op die ark gegaan.

16. Dit was mannetjies en wyfies soos God beveel het. Toe het die Here die deur van die ark agter hulle toegesluit.

17. Dit het 40 dae lank gereën en soos die waters vermeerder het, het dit die ark hoog bokant die grond opgelig.

Genesis 7