Genesis 46:23-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Dan en sy seun Sugam.

24. Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem.

25. Dit is die sewe seuns en kleinseuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel as slavin gegee.

26. Die getal direkte afstammelinge van Jakob wat saam met hom Egipte toe gegaan het, was 66, die vroue van die seuns uitgesluit.

27. Josef het ook twee seuns gehad wat in Egipte gebore is. In totaal was daar dus 70 lede van Jakob se familie in Egipte.

28. Jakob het Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet hy is op pad na Gosen toe. Nadat hulle daar aangekom het,

29. het Josef sy wa laat inspan om sy pa in Gosen te gaan ontmoet. Toe hy by hom kom, het hy sy pa omhels en lank so op sy skouer gestaan en huil.

30. Toe sê Jakob vir Josef: “Nou kan ek maar sterf, want ek het jou met my eie oë gesien en weet nou dat jy nog lewe.”

31. Josef sê vir sy broers en sy hele familie: “Ek gaan om vir Farao te vertel dat julle almal uit die land Kanaän aangekom het om saam met my te wees.

32. Ek sal ook vir hom sê: ‘Hierdie mense boer met klein- en grootvee. Hulle het al hulle diere saamgebring en ook alles wat hulle besit.’

33. Wanneer Farao dan met julle praat en navraag doen na julle beroep,

34. moet julle vir hom sê: ‘Ons was ons lewe lank veeboere, soos ons voorouers.’ As julle dit vir hom sê, sal hy julle hier in Gosen laat woon, want kleinveeboere word in Egipte verafsku.”

Genesis 46