Genesis 43:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daar was geen verligting van die vreeslike hongersnood wat in die gebied geheers het nie.

2. Toe die graan wat hulle van Egipte af gebring het, begin opraak, het Jakob vir sy seuns gesê: “Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos.”

3. Maar Juda sê: “Pa, die man het ons ernstig gewaarsku: ‘Ek wil julle nie weer sien as julle broer nie saamkom nie.’

4. As u instem dat ons broer saam met ons gaan, sal ons die kos kan gaan koop.

5. Maar as hy nie mag saamgaan nie, gaan ons nie, want die man het uitdruklik gesê: ‘Ek wil julle nie sien as julle broer nie saamkom nie.’”

6. Baie ontsteld het Jakob geantwoord: “Hoekom het julle hierdie moeilikheid oor my gebring? Hoekom het julle die man vertel dat julle nog ’n ander broer het?”

7. Hulle antwoord hom: “Die man het spesifiek uitgevra oor ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog ’n broer?’ Hoe moes ons geweet het hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’? Ons het maar net sy vrae beantwoord.”

8. Juda sê toe vir sy pa: “Stuur tog maar die seun saam met my dat ons kan vertrek sodat ons kan bly lewe en nie doodgaan nie. Dit raak almal van ons, ook Pa en ons klein kindertjies.

9. Ek sal persoonlik instaan vir sy veiligheid. As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa.

Genesis 43