8. Josef het hulle wel herken, maar hulle het hom nie herken nie.
9. Dit het hom dadelik laat dink aan die drome van jare gelede. Hy sê vir hulle: “Julle is spioene! Julle het kom kyk waar ons land kwesbaar is.”
10. “Nee, Meneer, ons is u dienaars!” sê hulle. “Ons het maar net gekom om kos te koop.
11. Ons is almal broers en eerlike mense, Meneer! Ons is nie spioene nie!”
12. “Nee, julle is!” hou Josef vol. “Julle het gekom om te kyk waar die land ingeval kan word.”
13. “Meneer,” sê hulle, “ons was twaalf broers, seuns van een pa wat in die land Kanaän woon. Ons jongste broer is daar by ons pa, maar een van ons broers leef nie meer nie.”
14. Maar Josef hou steeds vol: “Nee, julle ís spioene!
15. Kyk, ek sal julle storie toets. So waar as Farao leef, julle sal Egipte nie verlaat voordat julle jongste broer hierheen gekom het nie.
16. Een van julle moet julle broer gaan haal. Ek sal die ander hier in die tronk aanhou. Dan sal ek kan vasstel of julle storie waar is of nie. As dit blyk dat julle nie ’n jonger broer het nie, sal ek weet julle is spioene.”
17. Toe stuur hy hulle almal vir drie dae tronk toe.
18. Op die derde dag sê Josef vir hulle: “Ek dien God. As julle maak soos ek sê, sal julle lewe.
19. As julle werklik eerlike mense is, sal een van julle in die tronk agterbly. Die ander kan egter huis toe gaan met die kos vir julle gesinne.