Genesis 4:12-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Dit sal nie meer vir jou ’n goeie oes lewer nie, al werk jy hoe hard daarvoor. Van nou af sal jy ’n vlugteling en ’n swerwer op aarde wees.”

13. Kain antwoord die Here: “My straf is te groot om te dra!

14. U het my verban van my grond af en uit u teenwoordigheid. U het my ’n swerwende vlugteling op aarde gemaak. Elkeen wat my teëkom, sal my wil doodmaak!”

15. Die Here antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie, want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die Here God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie.

16. Kain het van die Here God se teenwoordigheid af weggegaan en in die land Nod, oos van Eden, gaan woon.

17. Kain het by sy vrou geslaap, sy het swanger geword en geboorte gegee aan Henog. Kain het ’n stad gebou en dit vernoem na sy seun Henog.

18. Henog was die pa van Irad. Irad was die pa van Megujael. Megujael was die pa van Metusael. Metusael was die pa van Lameg.

19. Lameg het met twee vroue, Ada en Silla, getrou.

Genesis 4