Genesis 3:18-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Dit sal vir jou dorings en dissels oplewer en jy sal van die plante van die veld eet.

19. Jou hele lewe lank, tot die einde van jou dae, sal jy met moeite werk om iets te hê om te eet. Aan die einde van jou lewe sal jy weer terugkeer na die grond waaruit jy geneem is. Want jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word.”

20. Die mens het sy vrou Eva genoem omdat sy die moeder sou word van alle mense op die hele aarde.

21. Toe het die Here God vir die mens en sy vrou klere van vel gemaak en hulle dit laat aantrek.

22. Daarna sê die Here God: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hulle ook weet van goed en kwaad. Wat sal gebeur as hulle van die vrugte van die boom van die lewe vat en eet? Hulle sal dan vir altyd lewe!”

23. Die Here God het daarom die mens uit die Tuin van Eden weggestuur om die grond te gaan bewerk waaruit hy geneem is.

24. Nadat die Here God hulle uit die tuin verban het, het Hy gerubs oos van Eden aangestel om met ’n vlammende swaard, wat heen en weer beweeg, die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

Genesis 3