Genesis 28:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Esau het geweet dat sy pa vir Jakob geseën en Paddan-Aram toe gestuur het om daar ’n vrou te kry. Toe hy Jakob geseën het, het hy hom gewaarsku: “Jy moenie met ’n Kanaänitiese meisie trou nie.”

7. Hy het ook gehoor dat Jakob gehoorsaam was aan sy ouers en na Paddan-Aram toe vertrek het.

8. Dit was vir Esau duidelik dat sy pa nie van die plaaslike Kanaänitiese vroue gehou het nie.

9. Daarom gaan hy na sy oom Ismael toe en trou met Magalat, dogter van Abraham se seun Ismael, en suster van Nebajot. Dit was benewens die vroue wat hy reeds gehad het.

10. Jakob is van Berseba af weg en het na Haran toe vertrek.

11. Teen sononder kom hy by ’n geskikte plek aan waar hy kon oornag. Hy neem toe een van die klippe van die plek en sit dit by sy kop neer. Toe gaan lê hy om te slaap.

12. Dié nag droom hy dat hy ’n leer sien wat op die aarde staan met die bopunt in die hemel. Engele van God het daarmee op en af geklim.

13. Die Here het aan die bokant van die leer gestaan en vir hom gesê: “Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham en die God van Isak. Die grond waarop jy lê, gee Ek vir jou en jou nageslag.

Genesis 28