Genesis 13:10-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Lot het rondgekyk na die vrugbare vlaktes van die Jordaanvallei in die rigting van Soar. Die hele gebied was waterryk, soos die tuin van die Here of die vrugbare Egipte. Dit was nog voor die Here Sodom en Gomorra vernietig het.

11. Toe kies Lot die Jordaanvallei en trek ooswaarts. So is die twee mans van mekaar af weg.

12. Terwyl Abram in die land Kanaän gebly het, het Lot sy tente tussen die stede in die vallei opgeslaan naby Sodom.

13. Die inwoners van hierdie gebied was sleg en het baie teen die Here gesondig.

14. Nadat Lot vertrek het, sê die Here vir Abram: “Kyk ’n bietjie rond in alle rigtings, so ver as wat jy kan sien.

15. Die hele land wat jy sien, gaan Ek vir jou en jou nageslag as permanente eiendom gee.

16. Ek gaan vir jou soveel afstammelinge gee dat hulle, net soos die stof op die aarde, nie getel kan word nie.

17. Kom, trek nou kruis en dwars deur die land, want Ek gee dit vir jou.”

Genesis 13