Filemon 1:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Filemon, ek dank my God altyd wanneer ek in gebed aan jou dink,

5. want ek hoor van jou liefde vir al God se mense en van jou getrouheid aan die Here Jesus Christus.

6. Ek bid dat die geloof wat ons met mekaar deel, jou ’n diep insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.

7. Broer, jou liefde het my bly gemaak en my bemoedig, omdat jy die harte van God se mense so dikwels verkwik het.

8. In my verbondenheid aan Christus het ek volle vrymoedigheid om vir jou te sê wat jy moet doen.

9. Tog wil ek, Paulus, ’n ou man, en nou ook nog ’n gevangene ter wille van Christus Jesus, eerder ’n beroep op jou liefde doen.

10. Ek pleit by jou vir my kind Onesimus. Ek het hom hier in die tronk tot bekering gelei.

11. Hy was voorheen vir jou niks werd nie, maar nou is hy vir jou en ook vir my baie bruikbaar.

12. Ek stuur hom na jou toe terug. Hy is my hart se punt.

13. Eintlik sou ek, terwyl ek in boeie is omdat ek die Goeie Nuus verkondig, hom graag hier by my wou hou sodat hy my namens jou kan help.

Filemon 1