6. Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer het.
7. Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi.
8. Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas.
9. Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif.
10. Ester het vir niemand gesê van watter volk sy kom, of wie haar familie is nie. Mordegai het haar verbied om dit te doen.
11. Mordegai het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur.