Ester 2:15-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Toe kom Ester se beurt, die dogter van Abigajil, die oom van Mordegai wat haar as sy eie dogter aangeneem het. Sy het vir niks meer gevra as wat Hegai, die hoof van die koning se harem, vir haar aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, was opgewonde oor haar.

16. Ester is na koning Ahasveros se koninklike paleis gevat in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning.

17. Die koning het Ester meer liefgehad as enige van die ander jong meisies. Sy was meer na sy sin as enigeen van die ander. Hy het toe die koningin se kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.

18. Ter ere van Ester het die koning ’n groot onthaal gereël vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was. Hy het daarvan ’n vakansiedag in al die provinsies gemaak. Hy het rojaal geskenke vir almal uitgedeel.

19. In die tyd toe die jong meisies na die tweede harem oorgeplaas is, is Mordegai as amptenaar van die koning aangestel.

20. Ester het nog steeds stilgebly oor haar familie en haar volk. Sy het nog steeds gedoen wat Mordegai vir haar sê, soos toe sy nog ’n kind by hom in die huis was.

Ester 2