8. Die koning se opdrag was dat elkeen sonder beperking kon drink. Hy het sy paleispersoneel beveel om elkeen se wense te eerbiedig.
9. Koningin Vasti het terselfdertyd ook die vroue in Ahasveros se paleis onthaal.
10. Teen die sewende dag was die koning al goed vrolik van die wyn. Hy het sy sewe persoonlike paleisbeamptes nadergeroep. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.
11. Hy het hulle aangesê om koningin Vasti met haar koninklike kroon op haar kop na hom toe te laat kom. Hy wou hê al die mense en die hoë amptenare moes sien hoe mooi sy is. Sy was beeldskoon.
12. Toe koningin Vasti by die amptenare hoor wat die koning sê, het sy geweier om te kom. Die koning het baie kwaad geword. Hy het gekook van woede.