Esra 5:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Hierdie is ’n afskrif van die brief wat die goewerneur Tattenai, Setar-Bosnai en die ander amptenare van die provinsie wes van die Eufraat vir koning Darius gestuur het.

7. In die verslag wat hulle aan hom gestuur het, het die volgende gestaan: “Ons groet koning Darius.

8. Hiermee wil ons aan u bekendmaak dat ons na die bouterrein van die tempel van die groot God in die provinsie Juda gegaan het. Die bouwerk word met spesiaal voorbereide stene gedoen en balke word ook in die mure ingebou. Die werk word met groot ywer gedoen en hulle maak goeie vordering.

9. Ons het die leiers gevra: ‘Wie het vir julle toestemming gegee om hierdie tempel te herbou en hierdie gebou te herstel?’

10. Ons het ook hulle name gevra sodat ons u kon inlig wie die leiers is.

11. “Hulle het soos volg geantwoord: ‘Ons is die dienaars van die God van die hemel en die aarde. Ons herbou die tempel wat baie lank gelede hier deur ’n beroemde koning van Israel klaar gebou is.

Esra 5