11. Hulle mag tempelwagte en tempelbediendes wees, en hulle mag die diere slag wat as brandoffers geslag word en my mense help.
12. Maar hulle het my volk aangemoedig om afgode te aanbid sodat Israel in sonde geval het. Daarom het Ek ’n eed gesweer dat hulle die straf vir hulle sondes moet dra, sê die oppermagtige Here.
13. Hulle mag nie voor My kom om as priesters te dien nie. En hulle mag nie enige van die heilige voorwerpe of heilige offers aanraak nie. Hulle moet die skande dra van al die sondes wat hulle gedoen het.
14. Hulle mag in die tempel as bediendes werk om die tempel te onderhou en diens te verrig.
15. “Die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het getrou in die tempel gewerk in die tyd toe Israel My vir hulle afgode verruil het. Daarom mag hulle voor My kom om My te bedien. Hulle mag in my teenwoordigheid staan om vet en bloed van offers te bring, sê die oppermagtige Here.
16. Net hulle mag in my heiligdom kom en voor my tafel gaan staan om My te bedien. Hulle voldoen aan al my bepalings.
17. Wanneer hulle by die ingang van die binneste hof ingaan, mag hulle net linneklere dra. Hulle mag nie iets van wol dra terwyl hulle aan diens is in die binneste hof of in die tempel self nie.
18. Hulle moet kopdoeke en onderklere van linne dra. Hulle mag nie iets dra wat hulle laat sweet nie.
19. Wanneer hulle uitgaan na die buitenste hof waar die volk is, moet hulle eers die klere uittrek waarin hulle My bedien het. Hulle moet dit in die gewyde kamers los en ander klere aantrek sodat hulle nie die volk skade aandoen deurdat hulle hulle heiligheid dalk met hulle klere aan hulle oordra nie.