Esegiël 4:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. “Gaan lê dan op jou linkersy en sit die sondeskuld van Israel op jou. Jy moet hulle straf dra vir die aantal dae wat jy daar op jou sy lê.

5. Jy moet Israel se straf dra vir 390 dae – een dag vir elke jaar wat hulle gesondig het.

6. Daarna moet jy omdraai en op jou regtersy lê vir 40 dae – ’n dag vir elke jaar wat Juda gesondig het.

7. “Intussen moet jy aanhou om te wys hoe jy Jerusalem beleër. Lê daar met jou arm ontbloot en profeteer oor haar ondergang.

8. Ek sal jou met toue vasmaak sodat jy nie op jou ander sy kan draai nie, tot die tyd verby is dat jy die beleëring gedoen het.

9. “Gaan dan nou en kry koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt. Meng dit saam in ’n skottel. Gebruik hierdie kos om vir jou brood te maak gedurende die 390 dae dat jy op jou sy moet lê.

10. Meet vir jouself 230 gram kos uit vir elke dag, en eet dit op vasgestelde tye.

11. Meet ook 600 milliliter water af vir elke dag, en drink dit op vasgestelde tye.

12. Bak die kos elke dag soos ’n ronde garsbrood. Terwyl al die mense kyk, moet jy dit gaarmaak oor ’n vuur van menslike ontlasting.

Esegiël 4