1. Die Here het met my gepraat:
2. “Mensekind, kyk na Gog van die land Magog, die prins wat oor die nasies van Mesek en Tubal regeer. Profeteer teen hom.
3. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Ek is jou vyand, Gog, grootkoning van Mesek en Tubal!
4. Ek draai teen jou en sit hake in jou kakebeen om jou en al jou soldate, perde en ruiters, soldate met klein en groot skilde, almal met swaarde, na julle vernietiging te lei.
5. Persië, Kus en Put, almal met skilde en swaarde, sal saam met hulle wees.
6. So ook Gomer en sy baie mense, Bet-Togarma uit die verre noorde en sy mense saam met baie nasies.