Esegiël 20:13-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. “Maar die mense van Israel was in die woestyn opstandig teen My. Hulle het daar al geweier om my voorskrifte te gehoorsaam. Hulle het hulle nie aan my wil gesteur nie, al sou gehoorsaamheid aan hulle die lewe gegee het. Daarom het hulle my Sabbatdae geminag. Ek het gedreig om my wraak oor hulle uit te giet. Ek was van plan om hulle in die woestyn heeltemal te vernietig.

14. Maar ter wille van my Naam het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies wat gesien het hoe Ek my volk uit Egipte uitgelei het, kon sê dat Ek hulle vernietig het omdat Ek kwansuis nie vir hulle kon sorg nie.

15. Maar Ek het in die woestyn vir hulle gesweer dat Ek hulle nie in die land sou bring wat Ek vir hulle bestem het nie – die land van melk en heuning, die mooiste plek op aarde.

16. Want hulle het my bepalings verwerp, my wil vir hulle geïgnoreer en my Sabbatte geminag. Hulle harte het aan afgode behoort.

17. Tog het Ek hulle jammer gekry en hulle nie in die woestyn vernietig nie.

18. “Daar in die woestyn het Ek ook hulle kinders gewaarsku om nie in hulle ouers se voetspore te volg en hulle nie met die afgode te besoedel nie.

19. ‘Ek, die Here, is julle God,’ het Ek vir hulle gesê. ‘Wees gehoorsaam aan my voorskrifte, doen my wil

20. en beskou my Sabbatdae as heilig, want dit is ’n teken van die verhouding tussen My en julle. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is.’

21. “Maar ook hulle kinders was teen My opstandig. Hulle het geweier om gehoorsaam te wees aan my voorskrifte. Hulle het nie my bepalings nagekom en my wil gedoen nie, al sou gehoorsaamheid daaraan beteken dat hulle lewe. Hulle het my Sabbatdae geminag. Daarom het Ek gedreig om daar in die woestyn my wraak oor hulle uit te giet en my woede oor hulle af te koel.

Esegiël 20