17. “Mensekind, waarsku ook teen die vroue wat net profeteer wat in hulle verbeelding opkom. Profeteer oor hulle.
18. Sê vir hulle: So sê die oppermagtige Here: Verwoesting wag vir die mense wat toorbande om mense se gewrigte vasmaak en vir jonk en oud sluiers laat dra in ’n poging om mense in hulle mag te kry. Kan julle my volk in ’n lokval lei sonder om julleself te vernietig?
19. Julle laat my volk van My af wegdraai vir ’n paar hande vol gars of vir ’n stukkie brood. So het julle dié doodgemaak wat nie moes doodgaan nie. En julle het lewe belowe aan dié wat nie moes lewe nie. Julle het gelieg vir my volk wat baie graag na leuens luister.
20. “So sê die oppermagtige Here: Ek is teen julle toorbande omdat julle dit gebruik om mense soos voëls te vang. Ek ruk dit van julle arms af. Dan maak Ek my volk, wat julle soos voëls gevang het, vry.
21. Ek sal ook die sluiers afruk en my volk uit julle mag red. Hulle sal nie meer julle slagoffers wees nie. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.
22. Julle het regverdige mense met julle leuens moedeloos gemaak. Ek wou nie hê dat hulle ly nie. En julle het die goddeloses aangemoedig om nie met hulle sondige dade te breek en so hulle lewe te red nie.
23. Daarom sal julle nie langer praat oor visioene wat julle kamtig sien terwyl dit nie so is nie. En julle sal ook nie verder voorspellings waag nie, want Ek sal my volk uit julle mag red. Dan sal julle weet dat Ek die Here is.”