Esegiël 12:6-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Terwyl hulle kyk, tel jou besittings op jou rug en loop weg die nag in. Maak jou gesig toe en moenie na die land rondom jou kyk nie. Dit sal ’n teken wees vir die mense van Israel.”

7. Ek het toe gedoen soos ek beveel is. Helder oordag het ek alles wat ek in ballingskap sou wou saamneem, uitgedra na buite. Teen die aand het ek met my hande ’n gat deur die muur gegrawe terwyl almal na my kyk. In die donkerte het ek met my besittings op my rug buitentoe gegaan.

8. Die volgende môre het die Here vir my gesê:

9. “Mensekind, hierdie opstandige mense, die volk van Israel, het gevra wat dit beteken.

10. Sê vir hulle: Dit is wat die oppermagtige Here sê: Wat jy gedoen het, is ’n boodskap vir die koning in Jerusalem en vir al die mense van Israel wat in die stad is.

11. Sê vir hulle: ‘Ek is vir julle ’n teken. Soos ek gedoen het, so sal met julle gedoen word.’ “Want hulle sal uit hulle huise verdryf word en in ballingskap weggestuur word.

12. Ook koning Sedekia wat tussen hulle is, sal sy besittings in die nag op sy rug sit en weggaan. Hulle sal ’n gat in die muur grawe sodat hy uit die stad kan gaan. En hy sal sy gesig toemaak sodat hy nooit weer sy eie land sal sien nie.

Esegiël 12