1. Die Here het weer met my gepraat:
2. “Mensekind, jy lewe tussen opstandelinge wat die waarheid kan sien as hulle wil, maar hulle wil nie. Hulle sou my stem kon hoor as hulle maar net sou luister, maar hulle wil nie luister nie, want hulle is opstandig.
3. “Gee nou vir hulle ’n praktiese uitbeelding van hoe dit sal wees om in ballingskap te gaan. Pak net wat jy op jou rug kan dra en gaan dan uit jou huis uit asof jy op reis vertrek. Doen dit in helder daglig sodat al die mense jou kan sien. Dalk sal hulle nadink oor wat dit beteken, al is hulle so opstandig.
4. “Bring vandag nog alles uit wat jy in ballingskap sou saamneem. Terwyl hulle vir jou kyk, gaan teen die aand se kant uit jou huis uit asof jy in ballingskap vertrek.
5. Maak ’n gat in die muur terwyl hulle kyk. Klim dan met jou besittings deur die gat.
6. Terwyl hulle kyk, tel jou besittings op jou rug en loop weg die nag in. Maak jou gesig toe en moenie na die land rondom jou kyk nie. Dit sal ’n teken wees vir die mense van Israel.”
7. Ek het toe gedoen soos ek beveel is. Helder oordag het ek alles wat ek in ballingskap sou wou saamneem, uitgedra na buite. Teen die aand het ek met my hande ’n gat deur die muur gegrawe terwyl almal na my kyk. In die donkerte het ek met my besittings op my rug buitentoe gegaan.