Eksodus 39:15-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Om die borssak aan die skouerkleed vas te maak, het hulle goue kettinkies gemaak wat soos tou gevleg is.

16. Hulle het ook twee ringetjies gemaak wat hulle aan die bokant van die borssak vasgewerk het.

17. Die kettinkies is deur die ringetjies gesteek.

18. Die punte van die kettinkies is aan die bande vasgewerk wat oor die skouers kom.

19. Twee ander ringetjies is aan die onderkant van die borssak vasgewerk. Hulle was aan die agterkant vasgewerk waar dit oor die skouerkleed kom.

20. Twee ringetjies is ook vasgewerk aan die skouerkleed waar die gordel kom.

21. Hierdie onderste ringetjies is aan mekaar vasgemaak met blou toutjies om te keer dat die borssak afsak. Alles is presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

22. Die mantel wat agter die skouerkleed afgehang het, is uit een stuk blou materiaal gemaak.

23. In die middel was daar ’n opening waardeur Aäron sy kop kon steek. Dit het ’n omboorsel gehad om te keer dat dit skeur.

24. Al op die kant van die mantel het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk wat uit garing gemaak is.

25. Hulle het ook goue klokkies al op die soom vasgewerk.

Eksodus 39