1. Jakob se seuns en hulle gesinne het saam met hom na Egipte toe gegaan. Hulle was
2. Ruben, Simeon, Levi, Juda,
3. Issaskar, Sebulon, Benjamin,
4. Dan, Naftali, Gad en Aser.
5. Josef was toe alreeds in Egipte. Jakob het op daardie stadium alreeds 70 nasate gehad.
6. Josef en sy broers en daardie hele geslag is met verloop van tyd dood.
7. Die Israeliete was egter vrugbaar en het baie kinders gehad. Om die waarheid te sê, hulle was naderhand so baie en invloedryk dat hulle oor die hele land gewoon het.
8. Daar het toe ’n nuwe koning in Egipte aan bewind gekom. Hy het niks van Josef geweet nie.
9. Hy het vir sy mense gesê: “Hierdie Israeliete is vir ons ’n gevaar. Hulle het meer en sterker as ons geword.
10. Ons moet ’n plan maak om hulle getalle te beperk. As iemand teen ons oorlog maak, sal hulle by ons vyand aansluit. Hulle sal van oral in die land uit die land ontsnap.”
11. Die Egiptenaars het die Israeliete toe gedwing om vir hulle te werk. Hulle het opsigters oor hulle aangestel. Hulle het die Israeliete harde werk laat doen om hulle te laat swaarkry. Die Israeliete moes die stede Pitom en Rameses vir die farao bou om sy voorrade daarin te stoor.
12. Hoe swaarder die Egiptenaars hulle egter laat werk het, hoe vinniger het hulle meer geword en al verder uitgebrei. Die Egiptenaars het bang geword vir die Israeliete.
13. Hulle het toe die Israeliete met geweld verplig om soos slawe te werk.
14. Hulle het die lewe bitter swaar gemaak vir die Israeliete. Die Israeliete moes stene maak en klippe kap en buite in die veld werk.