Deuteronomium 8:13-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. wanneer jou troppe beeste en skape baie word en jou goud en silwer vermeerder en alles wat jy het, meer word,

14. dan is dit die tyd om versigtig te wees. Moenie hoogmoedig raak en dan vergeet dat dit die Here jou God is wat jou uit die slawerny van Egipte gered het nie.

15. “Moenie vergeet dat dit Hy is wat jou gelei het deur die groot en verskriklike woestyn met sy giftige slange en skerpioene, en waar dit warm en droog is nie. Dit is Hy wat vir jou water uit die rots gegee het!

16. Hy het vir jou kos gegee met manna in die woestyn, kos wat jou voorouers nie geken het nie. Hy het dit gedoen om jou nederig te maak en om jou te toets sodat dit daarna weer met jou goed kan gaan.

17. Hy het dit gedoen sodat jy nie moet dink dit is deur jou eie krag en energie waardeur jy ryk geword het nie.

18. “Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word. Hy doen dit om die verbond na te kom wat Hy met jou voorouers gesluit het.

19. “Maar ek verseker jou: As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode volg en voor hulle neerbuig, sal jy verseker vernietig word.

20. Net soos die Here ander nasies op jou pad vernietig het, sal Hy jou vernietig as jy nie na die stem van die Here jou God luister nie.”

Deuteronomium 8