Deuteronomium 4:31-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Want die Here julle God is genadig. Hy sal julle nie prysgee of verdelg nie. Hy sal ook nie die verbond vergeet wat Hy onder eed met julle voorouers gesluit het nie.”

32. “Ondersoek die hele geskiedenis vanaf die tyd toe God mense op aarde gemaak het tot nou toe. Ondersoek die hemel van die een uiteinde tot die ander. Kyk of iets so magtigs al ooit gebeur het.

33. Het enige nasie soos julle al ooit die stem van God gehoor wat uit ’n vuur praat en dit oorleef?

34. Het enige ander god al ooit ’n nasie vir homself geneem en hulle van ander nasies gered deur rampe, wondertekens, wonders, oorloë, indrukwekkende mag en groot dade wat mense bangmaak? Dit is wat die Here julle God voor julle oë vir julle in Egipte gedoen het.

35. “Hy het julle hierdie dinge laat sien sodat julle kan besef dat die Here God is en niemand anders nie.

36. Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor sodat Hy julle kon leer. Op aarde het Hy julle sy groot vuur laat sien sodat Hy met julle uit die vuur kon praat.

37. Omdat Hy julle voorouers liefgehad het, het Hy gekies om hulle nageslag te seën en om julle persoonlik met ’n vertoning van mag uit Egipte te bring.

Deuteronomium 4