10. Vertel hulle veral van die dag toe julle by Sinai in die teenwoordigheid van die Here julle God was. Daar het Hy vir my gesê: ‘Bring die volk bymekaar sodat Ek hulle kan onderrig. Op dié manier sal hulle leer om eerbied vir My te hê so lank as wat hulle lewe. Hulle sal ook my wette aan hulle kinders leer.’
11. Julle het nadergekom en aan die voet van die berg gestaan, terwyl die berg in vlamme gehul was. Die vlamme het die lug in geskiet en die donker wolke het alles stikdonker gemaak.
12. Die Here het met julle vanuit die vuur gepraat. Julle het sy woorde gehoor, maar Hom nie gesien nie; daar was net ’n stem.
13. Hy het sy verbond, die Tien Gebooie wat julle moet nakom, afgekondig en dit op twee kliptafels geskryf.
14. Dit was toe dat die Here my opdrag gegee het om vir julle hierdie reëls en bepalings te leer. In die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem, moet julle dit gehoorsaam.”
15. “Wees baie versigtig! Op die dag toe Hy met julle uit die vuur op die Sinaiberg gepraat het, het julle nie gesien hoe die Here lyk nie.
16. Daarom, wees versigtig om nie vir julleself enige beeld in enige vorm te maak nie, manlik of vroulik,
17. van enige dier of voël,
18. kruipende diere of visse nie.
19. Wanneer julle opkyk in die lug en die son, maan en sterre sien, alles in die lug, moet julle hulle nie aanbid nie. Die Here julle God het die hemelliggame vir al die volke op aarde bestem.
20. Onthou dat dit die Here is wat julle uit die brandende smeltoond van Egipte gered het. Julle het sy eie volk wat aan Hom behoort, geword. Dit is wat julle vandag is.
21. “Maar die Here het kwaad geword vir my as gevolg van julle optrede. Hy het met ’n eed gesê dat ek nooit deur die Jordaanrivier sal trek na die goeie land wat die Here julle God aan julle as spesiale besitting gee nie.