Deuteronomium 20:12-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. As hulle weier om die vredesaanbod te aanvaar en hulleself vir ’n geveg regmaak, moet jy die stad aanval.

13. As die Here jou God dit in jou hand gee, moet jy elke man in die stad doodmaak.

14. Die vroue, kinders, diere en ander buit mag jy vir jouself hou. Die buit van jou vyande wat die Here jou God vir jou gee, mag jy geniet.

15. Hierdie bepalings geld net vir die stede wat ver van jou af is en nie vir die stede van jou bure nie.

16. “Wat betref die stede van die nasies wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee: Jy moet alles wat daarin lewe, doodmaak.

17. Jy moet die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete heeltemal uitroei soos wat die Here jou God jou beveel het.

18. Dit sal verhoed dat hulle julle leer om al die afskuwelike gode te maak wat hulle vir hulleself as gode gemaak het, en so teen die Here julle God sondig.

19. “Wanneer julle ’n stad vir ’n lang tyd beleër, moenie die bome afkap nie. Eet die vrugte daarvan, maar moenie die bome afkap nie. Die bome is mos nie die vyand wat jy moet aanval nie!

Deuteronomium 20