Daniël 8:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die derde jaar van koning Belsasar se regering, het ek, Daniël, ná die eerste visioen nog een gesien.

2. Ek het gesien ek staan by die paleis in Susan in die provinsie Elam langs die Ulairivier.

3. Toe ek opkyk, sien ek ’n ram by die Ulai staan. Hy het twee horings gehad. Die een was langer as die ander een, al het dit eers ná die ander een begin uitgroei.

4. Hy het met sy horings gestoot na die weste, die noorde en die suide toe. Niemand kon teenstand teen hom bied nie. Niks kon van hom ontsnap nie. Hy het gedoen net wat hy wou en het al sterker geword.

5. Terwyl ek stip staan en kyk, kom ’n bok vanuit die weste oor die aarde sonder om iewers grond te raak. Hy het ’n opvallende groot horing tussen sy oë gehad.

6. Hy het met geweld afgestorm op die ram met twee horings wat ek by die rivier sien staan het.

7. Ek het gesien hoe hy die ram met geweld tref en sy twee horings afbreek. Die ram was nie teen hom opgewasse nie. Hy het die ram teen die grond geslinger en dit onder sy hoewe vertrap. Daar was niemand om die ram uit die bok se mag te red nie.

8. Die bok het buitengewoon sterk geword. Op die hoogtepunt van sy krag is sy groot horing egter afgebreek. In die plek daarvan het vier opvallende horings uitgekom. Dit het in al vier windrigtings gewys.

9. Uit een van hulle het ’n klein horinkie gekom wat kragtig na die suide, die ooste en na die mooi land van Israel uitgegroei het.

10. Dit het met krag opgetrek teen die magte van die hemel en sommige van hulle asook sommige van die sterre teen die grond gegooi en vertrap.

Daniël 8