2 Samuel 14:4-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Toe die vrou van Tekoa by die koning kom, het sy voor hom op die grond neergeval en uitgeroep: “Koning! Help my tog!”

5. “Wat is die probleem?” vra die koning.“Ek is ’n weduwee,” antwoord sy, “want my man is dood.

6. Ek het twee seuns gehad. Hulle het in die veld met mekaar baklei. Omdat daar niemand was om hulle uitmekaar te maak nie, het die een die ander doodgeslaan.

7. Nou het die hele familie teen my gedraai en eis: ‘Lewer jou seun uit. Ons sal hom teregstel omdat hy sy broer doodgemaak het. Ons wil hom doodmaak, al is hy die enigste erfgenaam.’ Maar as hulle dit doen, sal daar niemand vir my oorbly nie en die naam van my man en sy familie sal van die aarde af verdwyn.”

8. “Gaan maar gerus huis toe,” sê die koning vir haar. “Ek sal toesien dat niemand hom kwaad aandoen nie.”

9. “My heer die koning,” antwoord sy, “laat enige skuld op my en my familie neerkom, want die koning en sy troon is onskuldig.”

2 Samuel 14