2 Korintiërs 5:4-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Terwyl ons nog in die aardse tentwoning bly, kry ons swaar en kreun ons omdat ons nie gestroop wil word van ons aardse woning nie, maar met die hemelse woning beklee wil word. So sal wat sterflik is, verteer word deur die eintlike lewe.

5. Hy wat ons hiervoor gereedgemaak het, is God. Hy het aan ons die deposito van die Gees as waarborg gegee.

6. Ons is dus altyd vol moed omdat ons weet dat alhoewel ons nog in die liggaam woon, ons eintlike woning by die Here is;

7. want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.

8. Ons hou moed, maar sou liewer uit die liggaam wil verhuis om by die Here te gaan woon.

9. Ons streef in elk geval daarna, of ons nou ook al hier tuis is of nie, om Hom tevrede te stel.

10. Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was.

11. Omdat ons soveel ontsag vir die Here het, probeer ons mense oorreed. Ons opregte bedoelings is aan God bekend en ek vertrou dat julle in julle gewetens ook daarvan oortuig sal wees.

12. Ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar gee net vir julle aanleiding om op ons trots te wees sodat julle iets mag hê teenoor hulle wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie.

13. As dit lyk asof ons buite ons sinne was, was dit ter wille van God; en as ons by ons volle verstand is, is dit ter wille van julle.

14. Die liefde van Christus dring ons. Omdat ons geoordeel het dat Een vir almal gesterf het, glo ons dat ons almal ons ou, sondige lewe afgesterf het.

2 Korintiërs 5