2 Korintiërs 3:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. As die bediening van die ou verbond wat eintlik net tydelik was, gestraal het van heerlikheid, hoeveel meer sal die altyd blywende bediening van die nuwe verbond nie skitter van heerlikheid nie!

12. Terwyl ons só ’n verwagting koester, doen ons ons werk met groot vrymoedigheid.

13. Ons is ook nie soos Moses wat sy gesig versluier het om te verhinder dat die volk Israel sou sien dat die ligglans net tydelik was nie.

14. Hulle denke het verhard geraak. Tot vandag toe is hulle gedagtes versluier as hulle die Ou Testament lees. Daardie sluier word net eenvoudig nie verwyder nie omdat dit net Christus is wat dit geheel en al vernietig.

15. Tot vandag toe nog, elke keer as Moses voorgelees word, lê daar ’n sluier oor hulle harte.

16. Elke keer as iemand hom na die Here toe draai, verwyder Hy die sluier.

17. Die “Here” dui hier op “die Gees” en waar die Gees van die Here is, heers daar vryheid.

18. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.

2 Korintiërs 3