7. Op ’n keer het Elisa na Damaskus, die hoofstad van Aram, gegaan. Op dié tydstip was koning Ben-Hadad, die koning van Aram, siek. Iemand het vir die koning vertel dat die man van God daar aangekom het.
8. Toe die koning dit hoor, sê hy vir Gasael: “Neem geskenke en gaan na die man van God toe. Sê vir hom hy moet die Here vra of ek van hierdie siekte gesond sal word.”
9. Gasael neem toe van die mooiste handelsware van Damaskus en laai dit op 40 kamele as ’n geskenk vir Elisa. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienaar Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy gesond sal word.”
10. Elisa het geantwoord: “Gaan en sê vir hom: ‘Jy sal beslis gesond word.’ Maar die Here het aan my bekendgemaak dat hy beslis sal sterf.”
11. Elisa het stip na Gasael gekyk sodat Gasael ongemaklik geword het. Toe het die man van God in trane uitgebars.
12. “Waarom huil U, Meneer?” vra Gasael.Elisa antwoord hom: “Ek huil omdat ek weet van die verskriklike dinge wat jy die Israeliete sal aandoen. Jy sal hulle vestings afbrand, hulle jong mans doodmaak, hulle kinders teen die grond verpletter en hulle swanger vroue oopsny!”
13. Gasael antwoord: “Hoe kan ek, wat niksbeduidend is, so iets doen?”Maar Elisa antwoord: “Die Here het vir my bekendgemaak dat jy koning oor Aram sal word.”
14. Gasael het van Elisa teruggegaan en by die koning aangekom. Die koning vra hom: “Wat het Elisa vir jou gesê?”Hy antwoord: “Hy het gesê u sal beslis gesond word.”
15. Die volgende dag het Gasael ’n doek gevat, dit met water deurweek en dit oor die koning se gesig gegooi sodat die koning gesterf het. Gasael het hom as koning van Aram opgevolg.
16. In die vyfde jaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram, seun van koning Josafat, sy pa in Juda opgevolg.