2 Konings 6:17-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.

18. Toe die Aramese leër naderkom, bid Elisa: “Here, slaan hulle tog met blindheid!” Die Here het gedoen soos Elisa gevra het.

19. Elisa sê toe vir hulle: “Julle is op die verkeerde pad! Dis ook nie die regte stad nie! Volg my en ek sal julle neem na die man vir wie julle soek.” So het hy hulle na Samaria toe gelei.

20. Net toe hulle Samaria binnegaan, bid Elisa: “Here, laat hulle weer sien.” Die Here het hulle oë oopgemaak en toe hulle opkyk, is hulle binne-in Samaria!

21. Toe die koning van Israel hulle sien, roep hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, my vader, moet ek hulle doodmaak?”

22. “Natuurlik nie!” sê Elisa vir hom. “Maak jy die krygsgevangenes dood wat jy met jou swaard en boog gevang het? Gee vir hulle kos en iets om te drink sodat hulle kan teruggaan na hulle koning toe.”

23. Die koning het toe ’n groot fees vir hulle voorgesit en hulle toe teruggestuur na hulle koning toe. Daarna het die Aramese plunderaars nie weer die land Israel binnegeval nie.

24. ’n Tyd later het koning Ben-Hadad van Aram egter sy hele leër opgeroep en Samaria beleër.

2 Konings 6