1 Timoteus 1:5-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en opregte geloof kom.

6. Maar sommige leermeesters het hiervan afgewyk en bestee hulle tyd aan argumente en verval in dwase praatjies.

7. Hulle wil bekend wees as leermeesters van die wet van Moses, maar hulle verstaan nie wat hulle sê nie.

8. Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit gebruik soos God dit bedoel het

9. en besef die wet is nie soseer gemaak vir mense wat reg optree nie, maar eerder vir mense wat ongehoorsaam en opstandig is, wat teen God is en sondig, wat niks as heilig beskou nie en dit wat heilig is, besoedel; wat hulle vader of moeder of ander mense doodmaak.

10. Die wet is vir mense wat seksueel immoreel is, vir seksuele perverte, vir slawehandelaars, vir leuenaars, eedbrekers en vir hulle wat enigiets anders doen wat die gesonde leer weerspreek –

11. dié leer wat ooreenstem met die heerlike Goeie Nuus wat aan my toevertrou is deur ons goeie God.

12. Hoe dankbaar is ek teenoor Christus Jesus ons Here. Hy het my krag gegee en betroubaar geag om my in sy diens te stel,

13. selfs al het ek voorheen die Naam van Christus belaster. Ek het sy mense vervolg en hulle mishandel. Maar God het sy genade aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het.

1 Timoteus 1