27. “Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. U kan dit vir u manskappe gee wat saam met u is.
28. Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die Here sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die Here se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.
29. “Selfs wanneer iemand u agtervolg om u dood te maak, mag u lewe dan veilig wees in die bewaring van die Here u God! Maar mag Hy die lewens van u vyande weggooi soos klippe uit ’n slingervel!
30. “Wanneer die Here al die goeie dinge gedoen het wat Hy u beloof het en u leier van Israel gemaak het,
31. mag hierdie saak nie ’n klad op u naam wees en onskuldige bloedvergieting en wraak op u gewete gaan lê nie. En wanneer die Here hierdie groot dinge aan u gedoen het, onthou my dan asseblief!”
32. Dawid antwoord vir Abigajil: “Prys die Here, die God van Israel wat jou vandag na my toe gestuur het.
33. Geseënd is jy vir jou wyse optrede wat my verhinder het om bloed te vergiet en eiehandig wraak te neem.