1 Petrus 3:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ’n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen.

2. Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe.

3. Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie.

4. Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar.

5. Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar.

6. Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie.

7. En julle, mans, behandel julle vroue met respek. Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee. As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.

8. ’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.

9. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën.

10. Want die Skrif sê:“As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef,moet jy jou tong weghou van kwaadpraaten jou lippe van leuens.

11. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is.Soek vrede, ja, jaag dit na!

12. Die Here sorg vir dié wat reg doen,en Hy luister na hulle gebede.Maar die Here is teen dié wat kwaad doen.”

1 Petrus 3