1 Korintiërs 7:24-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Dus, broers en susters, bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het.

25. Wat die ongetroude meisies betref, beskik ek nie oor ’n opdrag van die Here nie. Maar die Here het my begenadig om betroubare leiding te gee en daarom gee ek nou my mening aan julle deur.

26. Met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dink ek dis die beste dat julle bly soos julle nou is.

27. As jy aan ’n vrou verbind is, moenie die huwelik probeer beëindig nie. As jy ongetroud is, moenie ’n vrou probeer kry nie.

28. Maar as jy sou trou, doen jy nie sonde nie en as die ongetroude meisie sou trou, doen sy nie sonde nie. Ek wil julle egter die ekstra kwellinge spaar wat die huwelik meebring.

29. Dít wil ek vir julle sê, broers en susters, onthou die tyd wat nog oorbly, is kort. Daarom moet die getroude mans besef dat daar dinge is wat nog belangriker is as hulle huwelik.

30. Om bly of hartseer te wees, of dinge te kan aankoop mag nie in die pad staan van die Here se werk nie.

31. Dié wat gebruik maak van die dinge van hierdie wêreld, moenie daaraan geheg raak nie. Want hierdie bedeling gaan verby.

32. Ek wil hê dat julle in alles wat julle doen, vry moet wees van die kwellinge van hierdie lewe. ’n Ongetroude man is begaan oor die dinge van die Here; oor hoe hy die Here kan gelukkig maak.

33. Maar die getroude man is begaan oor wêreldse dinge, oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak.

1 Korintiërs 7