1 Konings 9:2-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Toe verskyn die Here vir ’n tweede keer aan Salomo soos voorheen by Gibeon.

3. Die Here sê vir hom: “Ek het jou gebed en jou smeking gehoor. Hierdie tempel wat jy gebou het, heilig Ek sodat my Naam altyd daar vereer sal word. Ek sal voortdurend ’n wakende oog daaroor hou en dit onder my sorg neem.

4. Wat jou betref: Dien My met opregtheid en vroomheid soos jou pa, Dawid, gedoen het, doen alles wat Ek beveel het en voer my bevele en voorskrifte uit.

5. Dan sal Ek jou koningskap oor Israel bevestig soos Ek aan jou pa, Dawid, belowe het: ‘Daar sal altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel wees.’

6. “Maar as jy of jou nageslag My verlaat en nie my bevele en gebooie gehoorsaam nie, as julle ander gode dien en voor hulle buig,

7. dan sal Ek Israel uitruk uit hierdie land wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel wat Ek tot eer van my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel tot ’n voorwerp van spot en hoon onder die volke maak.

8. Al is dit so dat hierdie tempel nou ’n indrukwekkende gebou is, sal dit dan ’n ontstellende gesig word vir almal wat verbygaan. Hulle sal smalend spot en vra: ‘Hoekom het die Here sulke verskriklike dinge aan sy land en sy tempel gedoen?’

9. En daar sal geantwoord word: ‘Omdat hulle die Here hulle God wat hulle voorouers uit Egipte gebring het, vaarwel toegeroep het, ander gode vereer het, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dis hoekom die Here al hierdie rampe oor hulle gebring het.’”

10. Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel van die Here en die koninklike paleis te bou.

1 Konings 9