1 Konings 8:61-66 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

61. En mag julle ten volle toegewy wees aan die Here ons God sodat julle altyd sy bevele en gebooie gehoorsaam soos wat julle dit vandag doen.”

62. Daarna het die koning en die hele Israel saam met hom offers aan die Here gebring.

63. Salomo het 22 000 beeste en 120 000 kleinvee as maaltydoffers aan die Here gebring. So het die koning en die hele Israel die tempel van die Here ingewy.

64. Daardie dag het die koning die middelste deel van die voorhof, wat voor die tempel van die Here was, aan Hom opgedra. Hy het brandoffers, graanoffers en die vet van die maaltydoffers daar geoffer omdat die bronsaltaar voor die tempel van die Here te klein was vir al die baie offers.

65. Toe het Salomo en die hele Israel sewe dae lank feesgevier voor die Here. Dit was ’n groot byeenkoms, want hulle het so ver gekom as van Lebo-Hamat in die noorde tot by die Egiptespruit in die suide. Daarna het hulle nog sewe dae lank feesgevier, altesaam veertien dae.

66. Die dag daarna het Salomo die volk huis toe gestuur. Hulle het die koning met ’n seën gegroet en vertrek, vol vreugde en bly dat die Here goed was vir sy dienaar Dawid en vir sy volk Israel.

1 Konings 8