12. Dit kan wees dat as ek van u weggaan die Gees van die Here u dalk kan wegvoer na wie weet waar. As ek dan vir Agab vertel ek het u gesien, maar hy kry u nie, sal hy my doodmaak. En dit ten spyte daarvan dat ek my lewe lank ’n getroue volgeling van die Here is!
13. Het niemand vir u vertel van die keer toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie? Ek het toe 100 van hulle in twee groepe van 50 in elkeen van twee grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.
14. En nou sê u vir my: ‘Gaan en sê vir die koning Elia is hier!’ Hy sal my mos doodmaak!”
15. Maar Elia antwoord hom: “So seker as die Here, die Almagtige, leef, in wie se diens ek staan, Agab sal my sekerlik vandag nog sien.”
16. Obadja het toe gegaan en vir Agab vertel dat Elia gekom het. Agab het toe vir Elia gaan ontmoet.
17. “Is dit jy, jou moeilikheidmaker in Israel?” vra Agab toe hy hom sien.