1. Koning Dawid het baie oud geword. Hy kon nie meer warm word nie, al het hulle hom met baie komberse toegemaak.
2. Sy raadgewers sê toe vir hom: “Laat ons ’n jong meisie soek wat u kan bedien en versorg. Sy kan by u slaap sodat u warm kan word.”
3. Hulle het deur die hele gebied van Israel na ’n mooi meisie gesoek. In Sunem het hulle vir Abisag gekry en haar na die koning toe gebring.
4. Sy was ’n baie mooi meisie. Sy het die koning bedien en hom versorg. Die koning het egter geen geslagsgemeenskap met haar gehad nie.
5. In hierdie tyd het Dawid se seun Adonia, wie se ma Gaggit was, homself begin verbeel: “Ek gaan een van die dae die koning wees.” Hy het ’n strydwa en ruiters aangeskaf, asook 50 man wat voor hom uit gehardloop het.
6. Sy pa, koning Dawid, het hom van kleins af nooit gedissiplineer of selfs vir hom gevra: “Wat doen jy nou?” nie. Adonia was die tweede oudste seun ná Absalom. Hy was baie aantreklik.