22. Die volgende dag sien die mense, wat oorkant die see gestaan het, dat daar geen ander boot was nie, behalwe daardie een waarin Sy studentevolgelinge vertrek het en dat Yeshua nie saam met Sy studentevolgelinge in die boot geklim het nie,
23. maar ander bote het van Tiberias af aangeland, naby die plek waar hulle die brood geëet het waarvoor die Meester gedank het.
24. Nadat die mense dan gesien het dat nie Yeshua of Sy studentevolgelinge daar is nie, het hulle self ook in die bote geklim en na K’far-Nagum gegaan om Yeshua te soek
25. en toe hulle Hom oorkant die see gekry het, vra hulle vir Hom: “Leermeester, wanneer het U hier aangekom?”
26. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: Julle soek My nie omdat julle wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.
27. Moenie werk vir die kos wat tot niet gaan nie, maar vir die kos wat aanhou tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens vir julle sal gee, want dit is op Hom wat die Vader, as God, Sy seël geplaas het.”
28. Hulle vra vir Hom: “Wat moet ons doen om in die diens van God te werk?”
29. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dít is die dienswerk van God, dat julle in Hom, wat Hy gestuur het, vertrou.”
30. Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen U sodat ons kan sien en U vertrou? Watter teken sal U doen?Ps 78:24; Neg 9:15
31. Ons vaders het ‘man hu’ in die wildernis geëet, soos geskrywe is: ‘Hy het vir hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’”Eks 16:4,15; Num 11:7,8; Ps 105:40
32. Yeshua sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: dit is nie Moshe wat die brood uit die hemel uit vir julle gegee het nie, maar My Vader gee vir julle die Brood van Waarheid vanuit die hemel,
33. want die Brood van God, is Hy wat vanuit die hemel afgekom het en aan die wêreld die lewe gee.”
34. Hulle antwoord Hom: “Ons Meester, gee altyd vir ons hierdie Brood.”
35. Yeshua sê vir hulle: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Brood van Lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger wees nie en wie in My vertrou, sal nooit dors wees nie, tot in ewigheid,
36. maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het en julle vertrou nie.
37. Almal wat die Vader vir My gegee het, sal na My toe kom en Ek sal hom wat na My toe kom, nie wegwys nie,
38. want Ek het uit die hemel afgekom, nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
39. Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat Ek niemand, wat Hy My gegee het, sal vernietig nie, maar Ek hom sal opwek in die laaste dag.
40. Dit is die wil van My Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom vertrou, die ewige lewe sal hê en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”